Besluite

Hy maak sy eie heuning. ‘n Hele klomp korwe staan sy agterplaas vol. “Hierdie is sonneblomheuning!” sê hy met trots en hou die bottel op teen die lig. Lieflik soos die eerste goue sonstrale van ‘n nuwe dag. Soet, soet lekkerte die hele bottel vol. Ek koop dit vir net R40, ek het my eie bottel gebring. In Pick & Pay betaal jy al R65 vir so ‘n heerlikheid. ‘n Weduwee moet na haar pennies kyk. Ek koop al van lankal af by die omie in De la Reystraat.

Vandag is anders. Hy en sy vrou lyk opgewonde, sy is besig om in te pak. “Waar gaan julle heen?” vra die weduwee nuuskierig. “Ons trek Silwerhoek toe!” Ek is ook al silwer, maar dink nog nie aan sulke dinge nie. Iemand het eendag gesê “hulle” steel mens se asem in so ‘n plek. Ek glo dit tot vandag toe. Haar oë straal van blywees. “Ons sien so uit!” sê sy, haar stem staccatonote. Soos ‘n kind wat regmaak vir ‘n vakansie by die see. Amper.

Hy ook. Hy pak nie in nie, maar lyk besig. Mans kry dit mos maklik reg. Steunpilaar vir haar wat al die werk doen. En langs haar. Altwee nog gesond, alhoewel hy tydsamer beweeg as sy. Sy rits, vir my wat graag luister, al die voordele van ‘n aftreeoord in een asem af. Hul huis is verkoop, goeie prys gekry. Kyk hoe seën die Here Sy kinders.

Toe ek in die straat af ry, dink ek onwillekeurig aan my hoë krag-en erfbelastingrekening, my tuinjong en alarmstelsel, my twee honde. Miskien is ‘n aftreeoord nie so erg as wat ek tot op hierdie minuut gedink het nie. Miskien. Toe ek by my agterdeur instap, Moederhen my huis my soos altyd. Mens kan nie van jouself af weggaan nie. Hierdie ou huis met sy plankvloere en geitjies teen die mure, sy groot bome en boorgatwater, sy houtraamvensters, sy spens. My wortels lê diep, diep ingeplant. En tog. Soms moet mens jou verstand begin gebruik en nie met jou hart redeneer nie.

Die realiteit

Niemand het gesê die lewe is maklik nie. Ek lê op my bed en stuur ‘n whatsapp-boodskap vir my kind. Die volgende oomblik gryp die verlange na jou my met albei hande vas. Druk my keel toe. Ek maak al die krane oop. Terwyl ek met die foon in my hande lê, kom Youtube se icon tevoorskyn. Klik. “The last farewell” van Roger Whittaker.

Hoe dikwels het jy nie gevra ek moet dit speel toe ons in ons laaste dae van saamwees hier in die huis saans “U eie keuse”-aande gehou het en na al ons gunstelinge gelê en luister het, een nà die ander. Jy het so baie liedjies se name geken. En almal was vir my mooi. Ons het sommer vroeg al kamer toe gegaan, langs mekaar gelê. Jy was swak en dun en broos en ek was maar net langs jou al die pad. Jy het dikwels dankie gesê, dan het ek geantwoord dat jy presies dieselfde vir my sou doen as dit andersom was. Ek wonder wat het jy alles gedink, jy moes toe al geweet het.

Sekere paaie het nie omdraairoetes nie. Maar ons het aanhou hoop. Aanhou hoop. Dis een van die dae my verjaarsdag. Laas jaar het jy my “Vlam in die sneeu” van Ingrid Jonker en André le Roux gegee. Oor jy geweet het ek wou dit so graag hê. Voor in het jy in jou mooi sterk handskrif geskryf: “I love you dearly, more dearly than the spoken word can tell”….Roger Whittaker se woorde in sy laaste vaarwelgroet. Ek het dit toe nie so helder en so duidelik besef nie. Ek was so bly oor my lekker dik boek.

Almal moet doodgaan, sterwe. Eendag. Ek weet. Ek wonder of jy na my kyk hier waar ek met my nuwe krullebol-haarstyl deur die trane sit en tik. Ek wonder of jy daarvan sou hou. Jy was altyd so tevrede met my. Ek kon enige-iets aanhê, dan was ek vir jou mooi. En het jy my met die grootste waardering aangekyk. Ek mis jou. “More dearly than the spoken word can tell.”

Elizabeth Kendall ©

“’Tis better to have loved and lost than never to have loved at all.”

Dit reën en reën. Jy kyk uit jou foto teen die muur hier bokant my. Jy kyk na my. Elke dag. Jou dun bolip, jou bril, jou baie bekende vel vol vlekkies en sproete en baard, mooi skoon geskeer. Ek onthou hoe ons gesukkel het met die elektriese skeermes. Pure nie gewoond wees. Daar het altyd ‘n flenter baard oorgebly onder jou ken wat nie ek of jy kon bykom nie. Jou donkerbruin hare. Ja ek het gouer as jy grys geraak. Te grys vir woorde. Het jy toe blinkoog gesê. Jou oë. Blou soos die hemel op ‘n helder sonskyndag. Jou deurmekaar wenkbroue. Jou hemp se kraag, ek kan dit steeds voel. Jou trui. Netjies. Ek ruik jou naskeerroom. Ek hoor jou praat. Die lyne langs jou mond wat in diep lagplooie kon verander. Jou stem. Alles, alles in die foto kyk na my. Kyk en kyk. Sonder om te sien. Jy is nie meer hier nie. Tog is jy. Vir solank as ek lewe.

Elizabeth Kendall ©

 

Om te kan speel

1-004Verf is duur. Olieverf veral. Ek koop groot buise by Jimnettes in Pretoria as ek die geleentheid (en geld!) het. Dit hou lank. Dit ruik lekker. Olieverf is net anders. Dit word met reg die “mercedes” van verwe genoem.
As ek myself nou regtig ernstig wil bederf, my eie sielkundige wil wees, my seerplekke sagkens wil salwe, gaan kruip ek weg in my rondawel en skilder sommer amper heeldag lank. Sulke tye vergeet ek van alles. Ek vergeet van honger word, van huiswerk, van my selfoon, my huisfoon, my voordeurklokkie. Sulke tye kos niks. En sulke tye is broodnodig, veral nou.
Gister was so ‘n dag. Ek het heerlik geskilder aan ‘n bosveld-landskap tot ek tevrede was. Miljoene minute van salige stiltes. Maar toe bly daar verf oor. En ek wonder wat ek daarmee gaan doen. Verf is duur, jy weet! Toe speel ek en trek met koue lym strepe en kringe op hardbord, wag tot dit droog en hard word en verf met die oorblyverf bo-oor. Kom ons gee dit ‘n baie mooi naam, ‘n kunsnaam: ABSTRAKTE kuns. Die genot was groter as die naam.
Mag ek nooit die kind-in-my-hart verloor nie!
1-2017-01-13

Isolasie

Ons bed het ‘n dor vlakte geword

waar woestynwinde droë trane

uit oë teen klam kussings vaswaai

waar rooijakkalsies snags koes-koes

agter donker duine wegkruip

en hiënas histeries lag,

hul vleis verskeur –

my verlange kombers my toe

waar ek jou aan jou kant

nag nà nag

eindeloos bly soek

Elizabeth Kendall ©

 

“Sacred moments”

Dis Maandagoggend. Ek is al wakker van drie uur af. Niks snaaks daaraan nie, want ek het agt uur gaan slaap. Ek mag dit doen, want ek wil. Ek luister na my lyf en deesdae luister ek ook na my hart. My hart wat nog stukkend en seer is oor my liefste Chris wat sedert 28 September 2016 nie meer hier op aarde by my woon nie, maar in die hemel.

O, ek is bly hy is verlos van al die swaar van langer as twee jaar. Ek is verlig ja, maar dit vee nie die seer uit nie. Gladnie. Twee jaar en een maand se klippe-en-dorings-pad loop. Moeilik. Op en af, hoopvol. Nooit het ons opgehou hoop nie. Ek mis hom verskriklik baie. Hy is oral waar ek gaan. In my gedagtes, oral. Ek vat hom saam kerk toe, ek vat hom saam tuin toe, ek vat hom saam Pick & Pay toe. Oral gaan hy saam met my. Ek vermoed dit gaan nooit verander nie. Dis al hoe ek gaan oorleef.

Ek hoor hom praat, ek hoor hom raadgee, ek hoor hom lag. Ek sien hom onder die perskeboom sit en lees, ek sien hom in sy blou kamer, ek ervaar weer sy broosheid en tenger liggaam wat ek die afgelope maande liefdevol help afdroog en room smeer het nà hy gestort het.

Ek pak sy klere in ‘n ander kas weg, ruik aan sy hemde, sy sweetpakbaadjie, sy trui. As dit winter word in 2017, sal ek myself in sy trui toewikkel, gepantser teen die koue. Ek sal my verbeel hy hou my vas in sy eens sterk arms, teen sy fris borskas. Ek sal my dit verbeel.

Wanneer ek deesdae alleen by die ronde tafel in die kombuis sit en eet, verlang ek die meeste. Of nee, ek verlang die meeste as ek saans in ons bed klim en hom langs my mis. Daar waar hy gelê het, is dit kaal en leeg. Net niks. En niemand.

Ek het van sy kosbaarhede in die bedkassie se laai aan sy kant gepak: sy horlosie, die swart beursie waaruit hy dikwels note gehaal het om vir ons vleis te koop, vir my badskuim te koop of vir die karwag ‘n geldjie te gee. En ook ‘n paar persoonlike dinge: ‘n knipmes, sy sexy swart pet, sy Nokia selfoon, so oud soos die berge, mansjetknopies in ‘n mooi swart boksie wat styf toeklap. Sy ou goedjies. En nou myne, my troosgoed.

Telkom se man het vandag my rekenaar kom verskuif na die blou kamer reg langs ons slaapkamer. Hoe dikwels het ons hier gesit en radiokerk luister, koerant lees, musiek luister of sommer net gesels en nonsens gepraat op die ou blou bal-en-kloupootbankies wat uit oorle’ Ma se plaashuis-sitkamer dateer.

Ek voel veilig in hierdie kamer, want hy is nog hier. In my gedagtes. Hy staan agter my en kyk op die kalender teen die hangkas se binnedeur vasgeplak. “Dis Nagmaal die 26e”, hoor ek hom sê. Toe hy gesond was, het hy gereeld Bybelstudie by die ou mense in Ons Herberg gaan doen. Al die ou tannies was verlief op hom, want hy het die kuns geken om enige-iemand baie spesiaal te laat voel. Hy was nie net hul ouderling nie, hy was ook hul vriend. Sy heerlike humor en menslikheid het hom baie geliefd gemaak. Dis ook seker hoekom ek onmiddellik nà ek die nuwe matrone gevra het of hulle plek vir hom sal hê as hy uit die hospitaal ontslaan word, ‘n positiewe antwoord gekry het. Die Here het dit so voorsien. Wat jy saai, sal jy maai.

Gister het ek by familie gaan kuier. Sonder hom. Alles was goed en wel en my emosies was netjies op hok. Tot ek in my kar geklim het om huis toe te ry. My trane het in nat spoortjies oor my wange gerol en ek het ‘n intense en fisiese seer pyn gevoel daar waar my hart omtrent moet sit.

Almal sê dit gaan beter word. Ek glo dit nie. Ek mis my beste manmaat elke dag en soms ook snags as ek wakkerlê. Ander nag toe dit so heerlik gereën het en ek so bly daaroor was, kon ek dit vir niemand vertel nie. Toe praat ek maar met myself. Sommerso in die donkernag in. Miskien het hy my tog gehoor. Miskien hét hy.

Elizabeth Kendall ©

 

Oggendure

Jy vra my om te skryf
oor die rou, grou voordagure
wanneer baie mense nog slaap
wanneer ek met met vars, warm koffie
op die bal-en-kloupoottafel
(wat ek vir next-to-nothing
by die meubelwinkel gekoop het)
my Bybel oopmaak en soek,
soek na iets om aan vas te hou
net vir vandag, as ek mag,
ek blaai en blaai en lees van Job
en sy drie vriende wat in stilte by hom sit,
ek lees Psalm 139 vers 2 en weet hoe
die Goeie Vader in die hemel vir ons omgee
en dan maak ek my oë toe,
ek weet nie hoe om te bid nie,
ek praat net oor elkeen van my naby-mense
en roep hulle by die naam en dan dink ek aan
almal wat ek ken, wat ek weet,
wat iets makeer of dalk
‘n probleem het en dit vir my vertel het
en dan kom staan hulle sommer so langs my
en gee nie om dat ek nog my pajamas aanhet nie
en sluk saam my aan die koffie en prewel saam my
dat ons sondes tog vergewe moet word
om Jesus wil, Amen
ek het vergeet om te sê dat ek baie keer
vir krag en lewensblyheid en dankbaarheid
en al daai goed wat mens broodnodig het
in vandag se tyd, ook vra en natuurlik sê ek
altyd baie mooi dankie vir al die lekker
en wonderlike dinge wat steeds elke dag met my gebeur
en alles wat ek het: gesondheid, ‘n manmaat,
kinders, ‘n hond, ‘n huis en ‘n tuin en melk in die yskas
‘n warm kamerjas vir die winter en boeke en…………….

Elizabeth Kendall ©
(vier jaar gelede geskryf)