Die groot besluit

Moet ek of moet ek nie? Hoe dikwels het baie van ons nie al op dié twee gedagtes wipplank gery nie.

Dit is nou amper nege maande nà Chris se dood. Baie het gebeur. Heel aan die begin van my alleen-wees, was daar duisende papierwerk en reëlings wat afgehandel moes word. Ek is daardeur! Seer en stukkend, maar darem. Genade op genade.

Eersteling het by my kom woon omdat haar huurhuisie waarin se tien jaar gebly het, skielik verkoop is. Dit was goed vir ons albei. Moederhen en haar eerste kuiken, saamgevlerk. Ons het geweet dit gaan nie vir altyd en ewig aanhou nie. Sy het twee weke gelede verhuis na haar eie nessie.  “Jy sal jou vader en jou moeder verlaat,” sê die Bybel mos. En dis goed so.

Die somer het verbygegaan. In die herfs, toe die bome bruin, oranje en songeel blare op die aarde laat val, het ek en my verlange die vliegtuig Kaap toe bestyg. Salige saamweesdae by my tweelingkinders en hul gesinne, by vriende, by mense wat ek liefhet. Salige tye in die natuur, kosbare oomblikke saam met kleinkinders. “Let me tell you, Ouma!” sê Katie en wikkel haar driejaaroue lyfie op die maat van ‘n stukkie musiek. “Ouma, kyk my taak!” wys Joshua trots sy skoolwerk op sy tablet. “Kom ons gaan stap môre-oggend vroeg langs die see!” besluit ek en Amy een oggend in Kleinmond. Goue oomblikke en onthou-vir-ewig.

En toe het ek teruggekom. Die gemis en verlange na my manmaat was groter as ooit. Gaan ek dorp toe, “sien” ek hom voor my loop tussen Pick & Pay se rakke of hoor ek hom gesels met ou Jules, die karwag. Gaan ek kerk toe, spring die trane in my oë as ek my vriendinne se manne styf langs hulle in die ry voor my sien sit. Dan sing ek sonder ‘n stem. Bid met nat oë. Drink ek tee onder die karee hier by my ou huis, wens ek hy het op die wit draadstoel langs my gesit. Word ek soggens wakker in my dubbelbed, onthou ek hom langs my, verdwaal ek in die leegheid. Die afwesigheid bly by my. Elke dag, heeldag.

My huis is oud en kort aandag. Ek gaan koop verf. Danie “fix” die plafonne, die dak, die mure buite waar die pleister met die jare weggeraak het. Hy verf die dak, die buitemure. Dit begin al mooier lyk. Volgende week is dit die binnemure se beurt, een vir een kamer. Ek is nie haastig nie. Hy werk deeglik en netjies. En tydsaam. Hy het ander werk ook. Die tyd pla ons niks. Smiddae eet ons saam by die kombuistafel nà sy seëngebed.

In my agterkop broei ‘n plan. Ek vertel alles vir die Here. Hy sal my wys waarheen, wanneer en hoe. Ek vertrou Hom met my hele hart. Ek voel nog jonk. Ek is gesond. Ek wil skilder en lewe. Die Kaap is so mooi.

1-2017-06-01

Advertisements

3 thoughts on “Die groot besluit

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s