September

Die kind-in-my stap Ouetehuis toe, stap verby die rommelpapiere en polystyrene bakkies wat net sommerso neergesmyt lê langs die heiningmuur. Geen trots nie. Minder selfrespek. Hoekom doen hulle dit? Stap verby die swerms dikbekwewers wat op die vaal gras wei. Die reën bly weg. Ons land smag. Ons mense is dors. Ons is moeg vir geweld en misdaad en skrikwekkende whattsapp videos van kinders wat mishandel word. Ons wil dit nie meer hoor of sien nie. Veral nie nou nie.

Dis hoekom ek vir Tannie Ina gaan kuier vanmiddag. Ek wil weer voel soos ek toe gevoel het. Vyf jaar oud op die plaas Onverwacht. Die Prinsloos was ons bure. Tannie Ina heelwat ouer as ek, toe al in die Hoërskool. ‘n Mooi meisiekind met goudgeel hare. Later toe ek begin skoolgaan het, het daar ‘n swart-en-wit foto van haar in hul huis se gang gehang. Haar gradeplegtigheid. Ek het dit vir jare bewonder.

Nou is sy ver verby tagtig en woon in haar kamertjie alleen in Ons Herberg. Ek gaan kuier taamlik gereeld vir haar, want saam met die kuier kom al die pasella-gedagtes van wonderlike tye op die plaas. En dan voel ek weer veilig. Soos ‘n kind.  Veral nou in my eerste September nà Chris se dood.  September sal seker vir die res van my lewe ‘n onthou-lied sing. Laas-jaar-dié-tyd, laas-jaar-die-tyd.

Sy is nie in haar kamer nie, hulle hou “kerk” in die boonste saal. Ek stap soontoe en druk die vrugte wat ek vir haar saamgebring het in haar hande. ‘n Glimlag spring oop op haar gesig. Gesels ‘n klein rukkie. Toe ek uitloop, klou die woorde van die oumense se lied aan my rokspante vas: “As die lewenstorme woedend om jou slaan en jy gans ontmoedig vrees om te vergaan, tel jou seëninge, tel hul een vir een en jy sal verbaas wees oor wat God verleen…”

Ek wil wegkom. Uitstap in die louwarm somerson, na die groen bome kyk en vars lug inasem. By die hek moet mens die knoppie druk, dan maak iemand dit van binne-af oop. Anderkant die hek in die teerstraat af, stoot ‘n swart verpleegster  ‘n man in ‘n rolstoel . “Dit moet Meneer Landsberg wees”, redeneer ek hardop met myself.  Sy vrou bly in die aftreeoord oorkant die pad en hy, wat te swak geword het, in die versorgingseenheid van Ons Herberg. Hy kuier weer by haar soos toe hulle jonk was, net anders.

Ek kyk en kyk. Sy voorkoms het baie verander, oud geword. Maar sy mond, sy mond sê vir my dis hy. Elke mens het mos sy eie spesiale iets, iets wat jy onthou al het jy hom vir jare nie gesien nie.  Hy merk  die blye herkenning op my gesig. “Grobler?” sê hy vraend my nooiensvan.

Klein stiltes hang tussen ons vir etlike sekondes.  “Jy is nog mooi!” tuimel die opregte woorde uit sy mond, die mond wat ek van St. ses af so goed onthou. Hy kyk my op en af. Vat my aan die arm en trek my nader.  “Kom gee vir my ‘n soen!”  Ek plak ‘n soen op sy liewe mond. Daar is ‘n vonkel in sy oë.  ‘n Man bly ‘n man! Ons is altwee bly. “Oom Frans, ek het jou so lanklaas gesien!” sê ek. “Ja, ek val nou uitmekaar, maar die verstand werk nog. Ek word een van die dae sewe-en-tagtig!” Asof hy ‘n prys gaan wen.

Ag hoe lief was ek vir hom. My Wiskunde onderwyser van Standerd ses.  Toentertyd, voor ons in rye sy klaskamer ingestap het, het hy by die deur gestaan en saagsels uit die bordkrytboksie op ons hare gestrooi. “Dis kunsmis om jul verstand te laat groei!” het hy geterg.  Al die meisiekinders het hom gehaat en liefgehê. Sy bynaam was Aasvoël. Ek wonder steeds hoekom.  Nooit sou mens in sy klas in die hoek gaan sit nie, want “miskoeke dryf in die hoeke vas!” Wie wil nou ‘n miskoek wees?

Die swart vrou stoot hom deur die hekkie, ek kry nog kans om hom ‘n drukkie op sy maer skouer te gee.  Toe loop ek.  Ek loop die res van my lewe in, ek loop onder die groen bome deur en ek bêre die kind-in-my in die hoek van my hart. Net vir nou. Nou wil ek my seëninge tel, een vir een.

Elizabeth Kendall ©

 

Advertisements

7 thoughts on “September

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s