Dis weer September

1-001September is dié maand waarin byna onopsigtelike, splinternuwe groen blare aan ‘n kaal tak verskyn. Soos ‘n wonderwerk. Om dit te kan sien en waardeer, moet mens opkyk. Boontoe.

Ek sukkel nog soms om die menswees-toets te slaag. Maak dit saak? Ek glo nie. Ek leef in dankbaarheid. Elke môre is nuut. Elke dag ‘n uitdaging. Dis asof iets agtergeraak het ná Chris se dood en dis al asof ek dit nie ingehaal kry nie. ‘n Mens voel so half as jy sonder jou maat moet klaarkom.  Die 28e vandeesmaand is dit twee jaar al.  Twee jaar. So kort, so lank.

Tog het ek dit reggekry om onlangs vrou-alleen op die vliegtuig te klim en twee volle weke in die Kaap te gaan kuier. ‘n Feestelikheid was dit om kinders en kleinkinders teen my hart vas te druk. Die mooi natuur het my so inspireer dat ek honderde foto’s geneem het. Tuisgekom, maak sulke foto’s mos ‘n verlang-hart stil, want jy beleef en herleef elke sekond van voor af oor. Soet, soet onthou.

Laas naweek vra ‘n huisvriend of ek vir hom ‘n skildery sal kan skilder van Tafelberg en die see. Ek raak dadelik opgewonde. Soek tussen my baie foto’s en kry een waar die berg net ‘n dowwe droom doer iewers is. Skilder twee dae lank, stuur vir hom ‘n foto. Hy sing ‘n loflied en sal dit kom haal. Dankie sê my siel daarop.

Ná dié verwery, jeuk my vingers om nog een te doen, sommer net vir die lekker. Ek gaan koop ‘n ordentlike groot doek by ons plaaslike kunswinkel en begin. Wéér ‘n Tafelberg, wéér van een van my foto’s af. Die berg vol voue, die see blou en groen en golwerig, rotse met punte en skeure en bruin spatsels, die Kaap se wit strand in die voorgrond. Ek skilder en skilder.  Drie dae met onderbrekings tussen-in. Die lewe wag mos vir niemand nie. Dit weet ek nou al.

Skielik wonder ek of Chris my kan sien. Wéét hy hoe ek probeer? Sou hy bly wees om te weet ek speel rolbal, lees stories vir die oumense of woel steeds in die tuin? Sou hy glimlag as hy sien hoe ek soms vergeet dié dinge wat hy altyd onthou het: brood en melk, hondekos, vroegtydig vleis uithaal. Sou hy my troos as ek onverwags omgepluk word en diep weemoedig raak, met niemand wil praat nie en net maar stil wil asem haal?

Ek skilder en skilder terwyl ek so wonder. Die berg word lewendig, die sand is sag onder my vingers, my hart klim in die skildery in en ek dink aan die saamwees tussen geliefdes. Mense oraloor. My mense. Kosbaarder as goud.

Toe ek klaar is, kyk ek Boontoe en sê dankie.

 

Advertisements

10 thoughts on “Dis weer September

  1. Jou skildery is waarlik besonders… as ek mag, wil ek graag opsom wat ek daardeur in jou sien.
    Die onder en bo is sag. Die onder heelwat sagter as die bo. Die onderste gedeelte waar die water reeds oor die klipbank gespoel het, is jou meesterstuk, amper of jy jouself oortref het – die borrels en die skuim is só realisties, met die harde rotse wat deurskemer – dit gee ‘n gevoel van aanvaarding (amper gelatenheid) van die hier en nou. Die boonste gedeelte (wat tafelberg en die wolke insluit, lyk meer soos iets wat jy in jou geestesoog sien (durf ek sê amper ‘kinderlik’) – let wel ek noem dit nié kinderkuns nie! Maar dis of jy dit meer geskilder het uit die oog van ‘n ander mens; of dalk so asof iemand vir jou vertel wat hulle sien en jou hand hulle mond volg (ek hoop dit maak sin). Die middelste gedeelte daarteen is hard. Letterlik kliphard. Dis of jou gees homself staal en jou skilderhand dit so oordra.
    Wat my ‘vang’ is die definitiewe verskillende style waarmee jy (dalk onwillekeurig of onopsetlik) dié skildery van bo na onder geskilder het; jy sou dus drie skilderye kon maak van dié een as jy alom dieselfde styl toepas; hetsy expressionism (jou rotse), of realislism (jou berg en wolke) of romanticism (jou borrelende skuimerige voorgrond).
    Ek dink nie jy het daaroor gedink per sé nie – en alhoewel jy van ‘n foto afgewerk het, voel dit so of jy jouself daarin geplaas het en meer siel daarin gesit het as wat jy selfs beplan of beoog het.
    Kan dit soms vir iemand iets vertel? Veral vir ‘n vreemdeling, soos ek? Ek dink tog so.
    Behalwe dat jy duidelik erg baie talent het (meer as wat jy dalk van bewus is, of wat jy dalk self erken), was hierdie met die eerste oogopslag vir ‘n amperse paradoks. Ek het die skildery op en af beskou en my oog trek heeltyd af, na die ongelooflike uitbeelding van daar waar die see die strand ontmoet. Dís waar die misterie lê. As jy jou hand oor die boonste derde (die berg en horisonlyn) hou of selfs ook die rotsformasies toehou en net na die onderste derde kyk sal jy die skildery “voel”. Dis dáár waar ek jóú (die siel van die skilder) sien. Dit sê vir my iets van jou “hier en nou” gevoel.
    Skuus dat ek so voorbarig was, maar as kuns praat, dan eers is dit vir my ware kuns. Hierdie praat met my.

    Liked by 1 person

    1. Ek wonder of jy weet wat jou eerlike woorde vir my beteken. Groot waardering nogmaals. As ek miskien nog getwyfel het aan Godgegewe talent betreffende my verfstrepe, het jou woorde my vanoggend tot meer en beter aangespoor. Niks gebeur ooit toevallig nie. Ek is bly jy is oor my pad gestuur! Mooi wense vir jou.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s