Rolbal

ma3rrl5ln1‘n Lekker ding het gebeur! Op my “oudag” het ek begin rolbal speel. Om presies te wees, in Meimaand vanjaar het ek die heerlikhede wat in ‘n groen grasperk en vier balle opgesluit lê, begin ontdek. En ek is nie eers vreeslik sportief nie.

Alles was vreemd aan die begin: die vashou van die bal, die wit en rooi paaltjies aan die kant van die baan wat duidelik iets beteken en ja, veral die woorde. Woorde is mos in my wese ingeweef. Gou het ek geleer dat ‘n Skipper (of “skip”) die persoon is wie se naam onder nr. 1 op die telbord geskryf word en dat hy/sy in beheer van die span is. Ek het ook geleer dat ‘n span uit ‘n paar, ‘n drietal of viertal kan bestaan.  (Pare: ‘n span van twee spelers in speelvolgorde eerste en skipper. Drietal: `n span van drie spelers in speelvolgorde eerste, tweede en skipper.  Viertal: `n span van vier spelers in speelvolgorde eerste, tweede, derde en skipper.

Die witte of kat of ook “jack” genoem is die kleiner wit bal wat aan die begin van die spel deur die Lei (nr. 4 op telbord) afgelewer word. `n Speler moet, voor aflewering, op die mat staan met een voet ten volle of gedeeltelik op die mat. Op die oomblik van aflewering van die witte of die bal, moet een voet geheel of gedeeltelik op of oor die mat wees.
Só kan ek nou al ‘n hele paar reëls hier neerpen, maar dit is nie die doel van my skrywe nie. ‘n Feit is dat ek elke keer nog iets byleer.  En dat ek dit geniet! Dit draai boonop my alleen-Saterdae netjies nek-om.

Aanvanklik en tot laasweek, het ek die klub se nr. een balle geleen. Swart balle met wit hasies op. Daardie hasies het ook maar soms ‘n wil van hul eie en rol waar ek hulle nié wou laat rol nie. Tog het ek, soos die weke omgaan, meer selfvertroue gekry en beter begin speel. Die aanmoediging van klublede was wonderlik. Almal het positiewe raad en kommentaar gegee en my dapper pogings lof toegesing.

Op ‘n dag word kompetisie- en ligalyste teen die bord vasgeplak. “Jy moet jou naam opskryf!’ word ek deur meer as een mede-lid aangepor. Gits! Ek dink nie ek speel al goed genoeg vir sulke hoge dinge nie! Maar, soos baie keer tevore in my lewe, het ek dié keer ook meer moed as verstand. Ek skryf my naam op. Toe verneem ek as mens liga speel, moet jy jou eie balle besit. Ek skakel die rolbalwinkel in Lynnwood. En val amper op my rug! Balle is duur. ‘n Tas of trollie of sak of wat jy dit ookal wil noem, is ook duur. Saam is dit ‘n aardige bedraggie. Nee, bedrag liewer.  Ek kan dit eenvoudig nie bekostig nie.

Ná ‘n spel sit ons eendag en gesels. Fransie is ouer as ek en speel met nr. 2’s. Adriana het ook jare lank met nr. 2’s gespeel, sê sy. Sy het haar “ou” balle in haar kas. Sy leen nou die klub se nr. 0’s. Dis ligter. Ek hoor opens klokke lui! Wie weet, dalk verkoop sy dit aan my. Ek steek voelers uit.  “Ons kan daaroor gesels”, sê sy. Ek sien groen ligte aangaan. Omdat sy al negentig somers agter die rug het, wil ek haar nie in ‘n blik druk nie. Ek is geduldig.

Eergister, toe ons klaar gespeel het, sê sy onverwags: “Ek loop saam met jou kar toe!” My hart spring in my keel. “Is R…….. vir jou te veel?” vra sy kinderlik onskuldig. Ek wil haar toevou in my arms. “Neeeeee! Dis te min!” Ek bied haar meer aan. Ek sal dit kan betaal met groot dankbaarheid in my binneste.

Die mooi, amper splinternuwe tas met wiele en baie toeritssakkies waar mens jou lappies en salfies en goete in bêre, aparte kompartemente vir vier swart balle met die Vryheidsstandbeeld-gesig op (Statue of Liberty) is nou myne. Myne, myne, myne!

Die beeld van ‘n vroulike figuur wat Libertas, die Romeinse godin van vryheid, verteenwordig, het opnuut nuwe betekenis in my lewe gekry.  Vry om te kies. Om elke dag te kies dìt wat goed en mooi is, ten spyte van omstandighede.

Nou vir die uitdaging om goed te kan speel. Daar sal genoeg geleenthede wees. Ek sal dit aangryp met beide hande, maar veral die regterhand. Dié hand wat die bal laat rol. Netjies en met ‘n draai na die kat toe, want dit is waar die punte vir jou span lê en wag: naby of teenaan die wit kat.

Dit is ‘n seën om gesond te wees, om inspirasie te kry by ander, om nuwe mense te leer ken en om soos ‘n kind opgewonde te raak oor ‘n rollende swart bal op ‘n groen grasperk.

Dankiebly!

 

Advertisements

7 thoughts on “Rolbal

    1. Wonderlik!! Die reëls kry mens gou onder die knie. Ek dink ek is verslaaf daaraan, die sonlig, die geselskap, die goeie gees, die oefening, ag alles. Jy sal nie spyt wees nie! Wat ek die meeste geniet is die feit dat dit nooit vervelig is nie, want jy speel elke keer saam met ander mense en die balle rol ook elke keer anders. Dis héérlik!!!

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s