Ou Jacob

As ‘n reël werk hy nie op Maandae nie, maar vanoggend klok hy in met sy fiets asof dit Donderdag is. “En nou, Jacob?” vra ek toe ek hom by die klein hekkie sien staan. “Ek kom haal daai seil”, sê hy.  Die fontein het skielik ‘n week of drie gelede begin water lek sodat ek kort-kort die pomp moes aanskakel om dit vol te hou. Vir die voëls en vir die mooi.

Chris en my kinders het dit een jaar vir my verjaarsdag present gegee en sedertdien was dit nog net altyd ‘n vreugde om daar te sit en na die murmelende water te luister, te droom en te dink. Of te verlang, soos tans die geval is.

Nietemin, Jacob het elke klip persoonlik en eiehandig uitgepak, die yslike seil uitgehaal en ek het die skakelaar wat die pompie laat werk, afgeskakel. My “handyman” het riviersand en sement gemeng, ‘n ordentlike vloer gegooi en dit ná ‘n dag met boorgatwater gevul. Piekfyn! Ek het gejubel.

Oor die naweek het ek self probeer klippe terugpak. Uit pure nuuskierigheid om die eindresultaat te sien, maar ook omdat ek nie ‘n halfklaar ding vreeslik goed kan hanteer nie. “Handyman” het eenvoudig net nie tyd gehad om alles te doen nie. Ek was nie rasend suksesvol met dié takie nie. Klippe is swaar.

Toe Jacob dus sy seil, wat by nadere ondersoek toe wel ‘n gaatjie of drie in het, kom haal vanoggend, sien ek lig. “Is jy haastig, Jacob?” vra ek mooi gemanierd. “Aikona!” Ek beduie hom wat ek gedoen wil hê. Hy besluit sommer self hy sal ‘n slootjie op die regte plek grou sodat die sand en grond nie inspoel as dit dalk sou reën nie. Vindingryk en fluks. Ek gaan loer kort-kort hoe hy vorder. Lindiwe maak vir hom tee en hy eet sy brood met appelkoosjêm op, daarby. En hy werk die fontein se sake.

Toe ek weer gaan kyk, is hy amper klaar, al die sand mooi uitgevee, skoon water ingetap en die oorblywende (baie) kleiner klippe in die kruiwa gegooi.

“Dankie Jacob, dat jy my so mooi help vandag!” sê ek uit my hart en met groot waardering. (Ja, hy het ‘n paar rand verdien natuurlik, dis mos werk)

“Ek moet jou help, Oumiesies, ek kan nie jou weggooi nie!”

Nee ou Jacob, jy kan nie. Ek sal jou ook nie “weggooi” nie. Ons is nog “bruikbaar”, net soos die ou seil. 😉

Advertisements

10 thoughts on “Ou Jacob

  1. Onthou nog so goed hoe kinderlik opgewonde jy was oor jou fontein so paar jaar gelede! Geluk jy en ou Jacob en sê vir hom dankie dat hy jou nie sommer net los nie…..en nog so mooi help! Geniet jou fontein….dit lyk sooo mooi!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s